Liggaamsvrugte

Met die son wat agter die gordyn

Huiwerig verskyn

En sy eerste strale skerp

Lig op twee liggame werp

Onthul dit gisteraand se gebeure

Die gevoelens, smaak en geure

Wat ons vroegoggend herontdek

En dan dieselfde drange weer opwek

 

My hande in jou hare

Gevleg, is jou bene om my

Jy vervang die bloed in my are

Jou hart kry nog ‘n klop-slag by

Vasgevang, vasgebind

In ‘n liefdesgreep

Tussen gekreukelde lakens

Word die Paradys gevind

Waarin ons die Tuin

Stuk vir stuk

Verken en mekaar se

Liggaamsvrugte pluk

Lyftaal

Voel-voel-vingers

Opsoek na jou hand

Wat stadig steier

Oor jou lyf se rand

En saggies

Op jou borste land

Toe jou hart weergalm

Klop-klop weerklink

Teen my handpalm

Wat vee-vee voel

Oor vel en ribbebeen

Spoel af-af tot onder

Op jou bobeen

En dan gly-gly

Na binne

Bedui

Met suggestiewe

Handgebare

Eksplisiet

Bloed bruis binne are

Binne die vlees

Dis hoe ek jou

Lyftaal lees

Dronkende gedagtes

Jy deurdrenk my gedagtes

Dis jy wat my denke verdrink

As ek myself soek en weer vind

Vind ek dis jy waaraan ek weer dink

 

Want jy spoel my brein

My begrip betower jy

My verstand word verbluf

En volkome verlei

 

My gedagtes raak dronk van jou

Op jou bly ek ‘n glasie klink

Keer op keer op keer is dit jy

Wat ek in my beker skink

 

Jy beroof my van my sinne

Steel my gedagtes soos ‘n dief

En sou jy dit dan ontrafel en lees

Sal jy weet ek is verlief

 

My gedagtes loop oor van jou

My gedagtes is verslaaf aan jou

My gesofistikeerde dis

Jy’t ‘n nuwe aptyt

Binne my kom opwek

Jouself op my bord bedien

Stylvol vir my uiteengesit en uitgelê

Aan jou wil ek proe en wil ek lek

‘n Voorgereg om my mee te terg

Nóg meer van jou wil ek hê

Jou geur wil ek identifiseer, jou smaak

Jou sagte tekstuur uitken

Soos wat my lippe aan jou raak

‘n Hoofgereg om my honger te stil

Om my versadig met jou te laat

Om my aptyt met jou te vul

En vir nagereg

Vir die lekkerte daarvan

Vir die lus

Jou liggaam teen myne, kaal

Jy’s my gesofistikeerde dis

Van jou maak ek ‘n drie-gang maal

Met elke stukkie van my

Soveel gevoelens gelyktydig

Saam geweef as een

Dit borrel en bruis binne my

En kan nêrens heen

 

Dit verswelg my denke

Hierdie gevoelens wat ek voel

Dit omsingel my wese

Oorweldig, oorspoel

 

Ek wil dit na woorde verwerk

Uiting aan my denke gee

En dit tot dade omskep

Wat ek oor jou sal vee

 

Soos sagte kwashale

Orals op jou lyf verf

My gevoelens liggies en subtiel

Op jou liggaam uitkerf

 

Ek wil dit op jou vel graveer

Letsels van liefde op jou los

My gevoelens, my denke, my dade

Met soene aan jou siel pos

 

Want ek is lief vir jou

Lief vir elke stukkie JY

En wil dit graag vir jou wys

Met elke stukkie van MY

Behep met die maan

Sit jou hand in myne

Kom saam met my op ‘n ruimtereis

Ek wil die eindelose wydte

Van my liefde vir jou wys

 

Daar sal ons gly op sonstrale

En land op ‘n sekelmaan – wip en wieg

Swaai-swaai aan die hemelruim se balke

Ons ken nie die verskil tussen val en vlieg

 

Kom saam met my na die buitenste ruim

Daar waar die son nooit sak en verdwyn

Ons liefde sal so warm en helder bly

Soos ‘n duisend sterre wat verewig skyn

 

Die heelal kan ons speelgrond wees

Maar in jou hart sal ek my tuiste maak

Elke aand sal eindig met ‘n Oerknal

Elke keer as my lippe joune raak

 

Saam sal ons sweef soos twee planete

In een enkele wentelbaan

Want was ons nie maar nog altyd behep met die sterre

En meer gepla met die maan?

Aan verlange geboei

Dor, droewig en droog

Die verlange tap my leeg

En swaar, yslik swaar sal

Hierdie hart van my bly weeg

 

Want elke eindelose dag

Sonder jou daarin

Word dit donker soos die nag

En maak bitter min nog sin

 

Want as die mis jou oorval

En jy voor my oë verdwyn

En saam met dit my moed

Verval my hart in ‘n woestyn

 

Waar woeste winde waai en woed

En hoop sukkel om te groei

In ‘n plek van honger en dors wees

Bly my hart aan verlange geboei

Bloeisels

Ek het vandag die eerste bloeisels

Aan die kaal winter takke sien hang

Dit het my aan jou laat dink

Dit het my na jou laat verlang

 

Ek het daarby stil gaan staan

Ek wou vir jou ‘n takkie pluk

Maar jy was nêrens naby my

Om dit agter jou oor in te druk

 

Ons seisoen het tot ‘n einde gekom

Lente het ons Winter geword

Die bloeisels wat binne my blom

Het met eens op die grond neergestort

 

En wat daarvan oorgebly het

Slegs ‘n verlepte hart

Wat Lente weer soos Winter laat lyk

Eensaam, koud, kaal – vol smart

 

Ek sal bly terugkyk na dié seisoen

Toe my hart doodgebloei het

Na dié tyd van die jaar wanneer

Bloeisels uit die bome vloei

Volmaan

Full-Moon-moon-22778640-1024-768

Volmaan, volmaan

Waarheen sal jy

In die môre gaan

 

As goue sonstrale oor

Die aardrand verskyn

Sal jy ons weer agterlaat

En met jou sterre verdwyn

 

Volmaan, volmaan

Val jy dan vanuit

Jou wentelbaan

 

As ek jou uit die hemel skiet

Vroeg voor die oggenddou

Kom jy dan in haar arms te lande

Wat jou verewig sal vashou

 

Volmaan, volmaan

Want dit is hoe sake

Van nou af staan

 

Vir haar sál jy saans skyn

En deur die dag by háár bly

Lei haar met jou duisend sterre

Bring haar gou weer terug na my

Onthou my

My hart wil jou nie laat gaan nie

My hart wil jou hier by my hou

Ek weet jy kan nie bly nie

En vra dat jy die volgende sal onthou

Onthou my as jy hier vertrek

Dink aan my as jy ander kant land

Onthou my as die son opkom

As jy kaalvoet loop op die strand

Dink aan my as jy die branders hoor

Wanneer jy die wind deur jou hare voel

Onthou my woorde vanuit my hart

As die see oor jou voete spoel

Onthou wat ek vir jou beloof het

Dat ek hier bly wag vir jou – jy weet

Onthou om dit altyd te onthou

Onthou om my nie te vergeet